Mansgenoeg, dit kan vir sekere mense bietjie chauvinisties
voorkom, maar met Mansgenoeg bedoel ek
dat ek nie bang is om my mening te lig nie, my gedagtes te verwoord nie en glo
dat dit ’n reg en selfs plig van elke persoon is, om hulle opinie te lig, maar
ook mansgenoeg is om te erken as hulle verkeerd is, as hulle opinie aangepas
moet word omdat iemand anders sin meer sin maak.
Hierdie blog gaannie noodwendig baie besig of gereeld wees nie...maar vir 'n rekenmeester met geen skryf kennis en wat glad nie kan spel nie, is hierdie die plek om my mening te lig. So lees gerus indien jy 'n bietjie van Jannie se gedagtes en denke wil leer.
Die eerste blog is eintlik 'n comment op 'n blog van +Nadia Marais , die reply het bietjie lank geraak en ek kon hom nie onder "comment" inkry nie, so toe besluit ek...dit is hoogtyd om sommer my eie blog ook te gebin. Vir perspektief op my blog, verwys ek julle na die blog en gevolglikke kommentaar van ander mense wat +Nadia Marais geskryf het. http://kerkinkonteks.blogspot.com/2013/10/n-ng-kerk-toekoms-ja-vir-tyd-oor-kronos.html
Ek sal ook graag die volgende vriende wil uitnooi om hierdie te lees: +Neil de Kock +Jacolene Myburgh +Lize Cornelius +Marianca Louw
Soos ek by die bespreking na Nadia se proefpreek duidelik
gemaak het, is ek geen teoloog en spruit my kennis en christelike sieninge uit
my verhouding met Jesus, gesprekke met mede christene en die dag tot dag lewe
tussen gelowiges van alle gelowe en selfs ongelowiges.
Hierdie genoem, kan ek dus my siening uit die oog van ‘n NG Kerk
lidmaat stel.
Ek is duidelik bewus van die erns waarmee die gay kwessie
hanteer moet word. Ons, jonk en oud, word daagliks gekonfronteer met die
vraagstukke wat daaruit vloei.
Ek het baie gay vriende, sommige was vriende lank voor ek
van hulle seksuele oriëntasie geweet het en is nog vriende, lank nadat hulle my
hart van aanvaarding, ondersteuning en liefde kon sien en vertrou en besef dat
deur hulle diepe geheim en worsteling met my te deel, nie tot oordeel of
vervreemding sal lei nie.
Ek is gefrustreerd omdat ek sien hoe daardie vriende moet
worstel en vervreemd raak van kerk, die kerk wat Jesus se onvoorwaardelike
liefde moet verkondig, wat Jesus se genade vir ons moet laat insink, dat ons
met ons klein menslike verstand kan weet, God het my gemaak soos ek is, God
maak nie foute nie en God het liefde, genade en redding vir elkeen van ons.
Ek is gefrustreerd omdat die kerk, my kerk, nie hierdie
liefde onvoorwaardelik kan verkondig nie, omdat my kerk my nie kan toerus om
met daardie mense te praat en hulle in liefde na Jesus terug te bring nie.
Omdat my kerk se leiers hulle eie agendas, denke en wil, wil afdwing en vir dae
duisende rande mors om te stry oor goed, wat soos politieke partye in faksies
verdeel en na die tyd wil terug kyk en besluit wie was die grootste wenner,
watter menslike faksie het die ander een hierdie keer gewys waar Dawid die
wortels begrawe het.
Ek is moeg daarvoor om in ’n kerk gebou te gaan sit, soos ’n
kluisenaar, still sonder om die mense wat Sondag na Sondag langs my sit se name
te ken. Ek is moeg daarvoor dat die NG Kerk nie kan of wil verander of
transformeer in ’n kerk van waarheid, liefde, genade, inklusiwiteit en bowenal
liefde aan die medemens nie.
My werk het my onlangs vir ’n jaar Hartenbos toe gestuur. Ek
was so gelukkig dat daar in die eerste week wat ek daar aangekom het, ’n nuwe Bybelstudie
groep vir jong werkendes begin is. Op 29 jarige ouderdom, kon ek na jare as lid
van ’n selgroep, vir die eerste keer sien wat Bybelstudie is, wat dit beteken
as iemand moeite doen om ‘’n gelykenis na te vors en dit oop te breek vir die
lede en werklik ‘’n oop gesprek te hê. Ek was hartseer toe ek moes terugkom na
my huis in die Kaap, want ek het gewonder, waar ek weer soveel insig en
verstaan van God se woord gaan kry.
Ek was daar tydens die NG Kerk Hartenbos se transformasie
van hulle Sondag aanddiens in ‘’n “eietydse” diens. Ek kon sien hoe Ds. Johan
sy droom om jonk en oud onder ‘’n lofprysingsgeleentheid elke Sondagaand bymekaar
te bring, uitleef, aandurf en groei. Ek kon sien hoe ’n gemeente wat seker 80%
uit “ou mense” bestaan, ‘’n idee omhels, onderskryf en dit omdat hierdie idee
deur gebed en die Gees gelei is.
Ek het terug gekom Kaap toe en ek het gewonder, is daar nog
plek vir my in ’n NG Kerk, het ek nie die kerk en al sy struwelinge in geloof
ontgroei nie...
Ek kan myself nie meer sien om ’n kerk te ondersteun of deel
te wees van ’n kerk wat wil dien onder reëls en regulasies soos die wat ons van
die destydse Joodse raad lees nie.
Ek kan nie sien hoe ’n kerk ‘’n “kompromie” moet aangaan en
vir iemand kan sê dat julle veroordeel is as julle in ’n gay verhouding is,
maar in dieselfde asem wil toelaat dat gay teologie studente in verhoudings is
tot legitimasie nie. Wat presies word dan bedoel, bedoel die kerk dat jou siel
nie gered is as jy jou gay seksualiteit uitleef deur in ’n liefdesverhouding te
wees nie en indien dit is wat bedoel word, is dit maar reg dat die gay teologie
student nie gered is nie en hel toe gaan? Watter beeld straal dit uit na die
gemeente en hulle vraagstukke oor gay, hoe gaan ’n seun vir sy pa sê hy is gay en die pa nie bekommerd wees oor sy
seun se geloof en wat dit vir sy seun se siel in die hiernamaals beteken nie.
OF, bedoel die kerk dat God se genade genoeg is, sy liefde
so groot is dat hy jou gemaak het om hierdie “las” te dra, maar te weet dat jy
eendag ook by hom kan wees. Dat die kerk bedoel dat gay mense wel gered kan
wees, as hulle hul harte vir Jesus gee, as hulle met oortuiging glo, dat slegs
God se genade en sy liefde vir hulle genoeg is en dat Jesus nie foute gemaak
het nie, maar hulle geskep het soos hulle is? Wat sê dit dan van die kerk om in
hierdie geval, verhoudings toe te laat tot legitimasie, maar om Vaders naam net
nie as jy ‘’n proponent of dominee is nie?
Ek kan nie sien dat die kerk in enige van die twee opsies
werklik ‘’n standpunt, ’n geloofsoortuiging of ’n Geestelike ingrypende
verstaan het nie.
As dit die kerk is waarvan ek ’n lid is, weet ek nie hoe
hulle my kan lei in die woord, my kan leer wat Jesus se verlossing of liefde
beteken nie, weet ek nie of hulle self weet nie.
Ek glo en verdedig nog altyd die instelling van ’n kerk met ’n
struktuur van verantwoordbaarheid, soos ’n NG kerk, ’n AGS of watter orde ook
al, waar daar ’n struktuur is, waar daar ‘’n leerplan vir dominee of pastoor
is, waar Bybelse geskiedenis, tale en konteks geleer word sodat die Woord vir
die gemeente oopgebreek kan word, sodat die woord in ’n moderne tyd verstaan
kan word.
Ek het nog nooit geglo aan ‘’n “mushroom” kerk nie, jy weet,
daardie wat oornag net op pop, hetsy omdat die dominee nie sy sin kon kry nie
en toe sy eie kerk begin, of omdat iemand die oortuiging gekry het dat hy sy 8
tot 5 rekenmeester werk moet los en ’n evangelis moet word nie.
Maar, ek het saam met een van my vriendinne na die GrapeVine
Christian Church in die Voortrekker saal van Kenridge gegaan. Ek het vir die
eerste keer in ’n baie lang tyd tuis gevoel, gevoel asof ek God en die Heilige
gees se werking ervaar, nie omdat daar ’n wonderwerk genesing was of omdat
iemand in tale begin praat het nie, nee, daardie het nie gebeur nie, maar ek is
omvou in ’n liefdevolle ontvangs. Die mense by die deur het my welkom geheet,
nie omdat iemand vir hulle gesê het hulle moet daar staan en vir almal in
monotoon “welkom” sê nie, maar omdat hulle bly was, dat nog een van Jesus se
skapies in die kerk kom. Daar is spek en eier rolletjies en koffie voor die tyd
beskikbaar, almal eet, gesels en is vrolik om te lewe en om by die kerk te
wees. Die band begin speel solank die lofprysing
liedjies, almal beweeg na ’n stoel, eet nog die laaste happie en sluk die
laaste bietjie koffie, skuif die bord en koppie eenkant toe en LOOF en PRYS die
verlosser, Saligmaker en liefdevolle God van hemel en aarde.
Die pastoor/dominee of wat ook al begin met sy preek, hy
lees uit die Woord, hy preek uit die Woord, hy haal ander teoloë aan en breek die
woord oop, sodat selfs die kinders verstaan en nie omdat hy dit eenvoudig stel
nie, maar omdat die Gees teenwoordig is, omdat die Gees met oud en jonk praat,
omdat daar nie vooraf opgestelde idees is van watter orde ’n diens moet neem
nie, omdat mense nie krapperig raak as die diens meer as ’n uur is nie, want
hulle is so gelukkig om hulle Sondag in die teenwoordigheid van ander gelowiges
en Jesus se woord te spandeer.
Na die tyd is almal huis toe, en ek het gevoel asof ek God
se woord vir die eerste keer in ’n lang tyd, in ’n kerk gebou gehoor het.
Daardie Maandag het my vriendin my gesê dat ek genooi is na
hulle selgroep die Woensdagaand. Ek het gegaan en die liefde en omgee wat daar
tussen jongmense bestaan was vir my ongelooflik, mense vra uit oor mekaar se
probleme, broer wat siek was of suster wat nog nie werk gekry het nie. Ongelooflik,
of moet ek eerder sê GELOOFVOL.
Ek is daarna een aand na my NG Kerk, ek het my ou selgroep
lede daar raak geloop, gegroet, ’n paar woorde gepraat, maar geen blydskap was
op enige iemand se gesig om my spesefiek na ’n jaar weer terug te sien in die
kerk nie. Die boodskap was uitstekend, maar daar het iets gekort, die liefde
vir jou medemens langs jou, die blydskap van die gemeente om die Sondag in gemeenskap
met ander te wees.
Ek sal nog ’n rukkie ’n lid bly van die NG Kerk, want soos ek
sê, ek glo nie aan mushroom kerke nie, maar, my siening is besig om te
verander, GrapeVine bestaan al ’n aantal jare, hulle besef dat daar meer
verantwoordbaarheid vanuit ’n kerk struktuur moet kom en sodra hulle inskakel
by so ’n struktuur en ek bid daaroor en voel dat daardie ’n struktuur is wat
deur God bymekaargesit is, sal ek die skuif maak. Sal ek gaan na ’n kerk waar
die vreugde van samekoms, liefde vir mense en indringende belangstelling in jou
medemens se welstand soos Jesus dit gedoen het, ’n kern aspek is.
Ek dink die NG Kerk moet ophou om in koerante te kom oor
kwessies soos homoseksualiteit en die binne gevegte wat daarmee saamgaan. Ek
weet nie waar of met wie om te praat oor wat Jesus se bedoeling en siening van
gay wees, gay verhoudings en ander alledaagse kwessies is nie. Die NG Kerk
leiers baklei onder mekaar en in die media elke paar jaar en dan is dit weer
stil, die gewone lidmate wat Sondag na Sondag in die kerk sit, hoor nooit die redenasies,
die teologiese perspektiewe om hulle ook te help om ’n beter verstaan te vorm
nie.
Daar is geen leiding deur die kerk aan sy lede hoe om te
dink, te glo en op te tree nie. Die pa wie se seun vir hom sê hy is gay, weet
hy het sy seun lief, weet hy sal dit verwerk, maar hy weet nie hoe hy moet dink
oor sy seun se siel nie, hy weet nie wat hy moet glo oor waarheen sy seun gaan
na sy aardse lewe nie, want sy kerk, die kerk van God waaraan hy behoort, kan
of wil nie vir hom voldoende leiding gee nie. Wil nie vir hom hulle verstaan
van teksverse wat teen gay wees preek oopbreek nie, wil nie vir hom hulle
verstaan van Jesus se koms, kruisdood, allesomvattende en genadige liefde leer op ’n manier
dat hy nie hoef te twyfel nie. Op die einde vaal die kerk die pa en die pa vaal
sy seun, want hy vermy die christelike implikasies, gesprek en sodoende moet
die seun met hierdie worsteling rondloop, dat God hom geskape het, om van mans
te hou en dat God hom geskape het op die manier en geweet het dat hy in elk
geval hel toe gaan. Watter boodskap van liefde, kruisdood vergifnis en genade
verkondig dit?
Goeie plasing!
ReplyDeleteEk is 'n rustende lidmaat van die NG kerk. Maar ek sal nooit na 'n ander kerk toe gaan nie behalwe vir iemand se troue of doop of 'n begrafnis.
Die Groot Gees het my in die NG Kerk gesit. En NG gaan ek dooi.
Maar ek glo ook nie dat gaymense hel toe gaan nie. Om die waarheid te se ek glo nie daar is iets soos die hel nie. Dis bangmaakstories. Bog.